Jaar skop goed af

Ria Wells
LEPHALALE – Die Gauteng Field Bowhunter-kampioenskappe het die naweek 21 en 22 Januarie naby Hartbeespoortdam plaasgevind. Die Field-kompetisie behels skiet tot en met 80 jaarts.
Hennie en Werdie van Staden, Mogol Nyala se uithaler boogskuts het aan dié kompetisie saam met ongeveer 100 ander skuts uit al die provinsies deelgeneem. Volgens Hennie was die weerstoestande uitstekend.
Werdie het in die AMFU-afdeling (Adult Male Freestyle Unlimited) deelgeneem met ‘n geleende HOYT-boog waarmee hy slegs twee weke tyd gehad het om mee te oefen. HOYT gaan vir Werdie voortaan borg en hy wag juis vir sy nuwe boog van Amerika af. Hy het vir die afgelope vier jaar met ‘n Bowtech-boog geskiet. Dit is nie ‘n maklik aanpassing nie, maar ten spyte daarvan behaal hy die eerste dag 535 punte uit 560 en op die tweede dag 543 uit 560 wat aan hom ‘n algehele derde plek besorg. Hy mis die silwer medalje met slegs een punt. Albei tellings is nasionale kwalifiserende tellings.
Hennie neem in die AMBU ( Adult Male Bowhunter Unlimited) deel. Op die eerste dag behaal hy 526 uit 560 en op die tweede dag skitter hy met 539 uit 560 en loop beide die dae met goue medaljes weg! Albei tellings is ook nasionale kwalifiserende tellings.
Hennie en Werdie het in Februarie drie groot kompetisies wat op hulle wag.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.