Klein botteltjie, groot gif

Christian, Elmé en Reuben
Christian, Elmé en Reuben

Leoni Kruger
LEPHALALE — Mens moet haar nie vlak kyk nie. Elmé Young (45) lyk net so klein en fyn en heeltemal te jonk vir ‘n ma van vier seuns, maar sy het ‘n wil van staal. En die mooiste bene!
Elmé het in Februarie vanjaar tydens ‘n klubligabyeenkoms gemaklik nasionale tye gehardloop in die 100 m (13.3 s), 200 m (28.4 s) en 400 m (65 s). En dít tussen ‘n klomp jonges!
Elmé en haar gesin het drie jaar gelede vanaf Durbanville in die Weskaap na Lephalale verhuis en sy reken dis die platteland en die wonderlike mense hier wat gemaak het dat sy weer haar ou talente afgestof en begin hardloop het.
“Ek was ‘n goeie atleet op skool (WP-kleure), maar na die geboorte van ons vier seuns 25 jaar later het ek gedink ek is oor die muur. Klaar gehardloop” sê sy.
Teen die middel van 2014 het sy egter die besluit geneem om by die klub aan te sluit en sy het dadelik saam met die oefengroep begin oefen. “Ek sou nie deurgedruk het as dit nie vir die groep was nie – dit is my daaglikse hoogtepunt om smiddae te gaan oefen” sê sy. Elmé het verlede jaar na 7 maande se oefen aan die Meestersbyeenkoms deelgeneem en daarna aan die ligabyeenkoms op 13 Februarie vanjaar. En gemaklik op die nasionale tye verbeter. Nou moet sy nog een keer weer sulke goeie tye hardloop dan is sy ‘n SA kampioen! En dit gaan sy hopenlik op 2 Maart by Pilditch doen. Elmé sê sy kan dit steeds nie glo nie.
Sy het baie hard gewerk, selfs deur die vakansie geoefen, maar hierdie prestasie is die kersie op die koek.
“Dit is so lekker dat ons hele gesin deur hierdie hardloopgogga gebyt is.
En dis goed en gesond vir almal. Mens dink altyd jy is oud en kan niks meer doen nie. Dit is nooit te laat nie. ‘n Hele nuwe wêreld het vir my oopgegaan. En dit is waar wat die spreekwoord sê: “’n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees”.
Pastoor Johan se ega. Ma vir Reuben (16), Christian (15), Joshua (9) en Simon (amper 6). Tuisteskepper. Kampioen in haar huis en op die baan. Ontmoet Elmé Young en hou haar dop!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.