Legende as gasspreker

Joe Meyer, voormalige projekbestuurder van die Medupi Grootegeluk Uitbreidingsprojek, Wynand Claassen, gasspreker en Neels Gerber, algemene bestuurder van Mogolklub
Joe Meyer, voormalige projekbestuurder van die Medupi Grootegeluk Uitbreidingsprojek, Wynand Claassen, gasspreker en Neels Gerber, algemene bestuurder van Mogolklub

Ria Wells
LEPHALALE – Wynand Claassen, legende in rugbykringe, was die gasspreker tydens die Mogolklub se prestige Sportster van die Jaar-funksie. Gedurende sy skooljare het hy uitgeblink in rugby, atletiek en krieket.
In 1971 word hy verkies as die kaptein van die o.20 Noord-Transvaalspan op nommer 8 wat voortaan sy permanente posisie sou word. Hy maak sy debuut vir die Blou Bulle in 1973 waarna hy in 61 wedstryde vir hulle uitgedraf het, vier as kaptein.
Wynand verwerf sy B.Arch graad in 1978 en verhuis in 1980 na Durban. Hier raak hy met entoesiasme by Natal se rugby betrokke waar hy hulle aanvoer as kaptein in 65 wedstryde. Sy laaste wedstryd as kaptein was in 1984 in die Curriebekerfinaal teen die Westelike Provinsie. Gedurende sy rugbyloopbaan was hy ook in sewe toetswedstryde vir Suid-Afrika te sien.
Maar rugby was nie Wynand se enigste talent nie. Sy kreatiwiteit, behalwe argitektuur, het hy ook uitgeleef in pen-en-ink-sketse asook olieverfskilderye. Verder het die kranige sportman 11 Comrades -, drie Two Oceans – en drie Duzi Kano-marathons voltooi. Tans neem Wynand deel aan bergfietswedrenne soos die 94.7, die Cape Argus asook die Duzi2c. Maar dit is nog nie die einde nie. In 1985 publiseer Wynand sy outobiografie “More Than Just Rugby”, die beste verkoper in Suid-Afrika vir drie agtereenvolgende maande. ‘n Herdruk van die boek “The final Chapter” verskyn in 1996 en aan die einde van 2011 sien “Kaalvoetklong tot Rugbytoks”, ‘n nostalgiese reis vanaf kindsbeen op die platteland tot met sy universiteitsjare, die lig.
Gesien in die lig van al Wynand se prestasies, veral op sportgebied en ook as deeltydse rugbykommentator vir M-Net SuperSport, was dit ‘n logiese keuse dat Mogolklub hierdie uitstaande persoon sou nader om as gasspreker op te tree tydens die Sportster van die Jaar-funksie.
Sy boodskap was eenvoudig: Stel hoë doelwitte aan jouself, moet nooit moed opgee nie, bou en koester herinneringe en wonderlike stories oor vriende wat jy maak, mense van verskillende nasionaliteite wat jou pad kruis. Maak nie saak wat jou omstandighede is nie … “Never give up …”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.