Liga 2 in Lephalale

LEPHALALE — Enduratrack Atletiekklub met eienaar Louis van Rooyen het Saterdag 12 Mei Liga 2 van die LIMA/ASA Cross Country Landloop by The Junction/Jumpers Paradise aangebied. Dit is die eerste keer dat die byeenkoms in Lephalale aangebied word.

Louis van Rooyen van Enduratrack saam met Frikkie Snyman

Die byeenkoms is baie goed bygewoon. Kinders van so jonk as drie jaar oud tot persone 60 jaar en ouer het deelgeneem aan afstande vanaf een tot 10 kilometer.

703 atlete van verskeie klubs en skole vanoor die hele Limpopo soos Musina, Tzaneen, Groblersdal, Polokwane ensovoorts het deelgeneem en dan natuurlik atlete van Enduratrack in Lephalale en Laerskool Bosveld Primary. Selfs die atelete van die Ben Choe Klub van die landelike gebied, Jane Furst in Marble Hall, het in groot getalle opgedaag. Volgens Louis was daar ongeveer 1 800 mense deur die hekke.

Daar word jaarliks vyf LIMA/ASA Cross Country-ligas aangebied waarvan hierdie die tweede vir 2018 was. Vir atlete om te kwalifiseer vir Limpopo Provinsiale kampioenskappe moet atlete aan ten minste drie van die vier byeenkomste deelneem. Van daar af sal gekose atlete gedurende September hierdie jaar aan die SA-kampioenskappe te Port Elizabeth gaan deelneem.

Louis bedank al die borge wat die geleentheid moontlik gemaak het asook die gemeenskap vir hul ondersteuning wat gesorg het vir ʼn suksesvolle byeenkoms. Brons, silwer en goue medaljes is aan die eerste drie plekke in elke kategorie oorhandig.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.