Mari raap 2de plek op …

‘n Trotse Mari ontvang haar trofee vir haar tweede plek in die “Gauteng North Novice 2017 Ladies Beach Bikini over 163 cm”-kategorie

Ria Wells
LEPHALALE — Die 33-jarige Mari Meyer van Lephalale het onlangs ‘n tweede plek verower in die Gauteng North Novice 2017 Ladies Beach Bikini over 163 cm”-afdeling.
Mari is reeds vanaf 2-jarige ouderdom woonagtig in Lephalale en het haar skoolloopbaan aan die Laerskool – en Hoërskool Ellisras voltooi. Sy was vir etlike jare aptekersassistent by Koedoe Apteek.
Ongeveer twee jaar gelede het Mari besluit om ‘n ommekeer in haar leefstyl te bewerkstellig deur meer gesond te eet en gereeld ‘n draai by die gimnasium te maak. Sy het egter na ‘n rukkie begin voel dat sy reg is vir ‘n groter uitdaging waarna sy haar gesonde leefstyl baie ernstiger begin opneem het.
Hennie Kotze, bekende afrigter van Pretoria, het Marie vir 12 weke onder hande geneem en met harde werk, deursettings- en uithouvermoë het Mari op Saterdag 29 April as groentjie aan haar eerste International Federation of Bodybuilders South Africa-kompetisie deelgeneem.
Mari het duidelik gewys wat in haar steek en het teen dames so oud as twintig jaar te staan gekom en met die tweede plek weg-gestap.
Haar droom om ‘n persoonlike afrigter te word is tans besig om waar te word, maar ook om meer aan kompetisies deel te neem en die leer te klim tot by SA-kompetisies om later, wie weet, Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.