Marlothii gholfdag — uiteindelik is almal skoenlappers

Spelers wat deel was van die gelukkige trekking saam met Corney van Marlothii heel regs

LEPHALALE — Die Marlothii-gholfdag is Saterdag 25 Mei by Mogolklub se bane gehou. Tydens die prysuitdelingsfunksie het Corney Myburgh, hoof van Marlothii, met groot entoesiasme, passie en trots die gaste meer oor die skool, kurrikulum en leerders vertel.

Marlothii se onderwysspan

Corney het verduidelik dat sekere leerders moeilik aanpas in hoofstroomskole en die gevolg is dat so ’n kind soos ‘n “wurm” voel indien daar op ’n sekere gebied nie genoegsaam presteer word nie – vandaar ook die Marlothii-wurm as skoolembleem.

Dit mag dalk vreemd klink om ’n wurm as embleem te gebruik, maar Corney het verduidelik dat leerders by Marlothii met gemak hul skoolloopbaan kan voortsit sonder enige stigma om later te ontluik in leerders wat ’n toekoms het. Die naam Marlothii is dus vir Corney baie belangrik, want by haar skool ontluik alle Marlothii’s op die ou end in pragtige skoenlappers.

Nog ’n interessante feit is dat die Marlothii-boomaalwyn, ’n enkelstam Suid-Afrikaanse aalwyn, se blare aan die onderkant begin verdroog wat volgens Corney die tyd simboliseer waar kinders in skole gesukkel het. Soos die boom groei, groen blare vorm en later blom, so groei en blom die kinders by Marlothii.

Marlothii het leerders vanaf graad R tot 12 en die Computer Applications Technology (CAT) kurrikulum word gevolg waar kinders van kleins af gereed gemaak word vir die wêreld van rekenaars, waarsonder niemand in die toekoms sal kan klaarkom nie.

Corney het elke speler en elke borg bedank wat die gholfdag moontlik gemaak het. Annemarie Maloney, komiteelid van Mogolgholfklub, het die prysuitdeling wat in die vorm van gelukkige trekkings plaasgevind het, waargeneem.

Die dag is afgesluit met ’n heerlike maaltyd by pragtige gedekte tafels.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.