Maroelabeker oortref

V.l.n.r.: Divan Geldenhuis, Riaan Nel, Billy Myburgh, AN Burger, Jonathan Steyn, Engela Nel en Patricia Wannenburg
V.l.n.r.: Divan Geldenhuis, Riaan Nel, Billy Myburgh, AN Burger, Jonathan Steyn, Engela Nel en Patricia Wannenburg

Ria Wells
LEPHALALE — Die sukses van die Maroelabeker tydens die Bosveldfees het Mogolklub se stoutste verwagtinge oortref. 577 rondtes in Individuele Stableford-formaat is oor die vier dae (Woensdag tot Saterdag) deur die gholfspelers uitgespook, 120 rondtes meer as in 2015.
Die prestige van die Maroelabeker is nou reeds wyd bekend en Jan Beyer, gholfbestuurder, is in sy noppies oor hoe die toernooi afgeloop het. Hy het tydens die prysuitdelingsfunksie gesê dat dit vir Mogolklub aangenaam was om al die spelers hier te ontvang. Hy het elke speler en borg van harte bedank vir hul goeie gesindheid teenoor die gholfklub asook die komitee wat volgens hom uitstekende werk gedoen het. Hennie Pepler is bedank vir uithaler musiekvermaak oor die vier dae en Claudia Pepler wat hard gewerk en kommunikasie met spelers en die administrasie vlot laat verloop het.
Hennie het Niel van Eeden van Lynnwood Pro Shop bedank wat die meeste pryse ter waarde van meer as R60 000 geborg het. Dit sluit reistasse, gholfsakke, Adidas-brille, setstokke, Tom Tom GPS’e en vele meer in. Hy het ook vir Jan en Essie Beyer bedank vir hulle uitmuntende diens wat die verversings aanbetref asook die kroeg- en Pro Shop-personeel. Francois Badenhorst en sy span is gekomplimenteer oor die fantastiese toestand van die gholfbaan en dit ‘n “lieflike wintersbaan” genoem.
Gerhard Pepler het die prysuitdeling waargeneem en die wenners is as volg:
Die brutowenners is Billy Myburgh (1ste) en Jaco Loubser (2de). In die damesafdeling het Engela Nel die septer geswaai met Patricia Wannenburg in die tweede plek. In die juniorafdeling het AN Burger geseëvier en Jonathan Steyn was tweede.
Die algehele wenner was die jonge Divan Geldenhuys met Riaan Nel as naaswenner.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.