Mogol gaan rol

LEPHALALE – Vir die eerste keer in die geskiedenis van Mogolklub, is sewe lede van die klub se rolbalspelers gekies om van 11-15 Maart 2019 in Kaapstad aan die Interdistriktetoernooi vir Limpopo deel te neem.

Dié sewe spelers, Rina van Greuning, Stompie Venter, Dorette Wells, Marietjie de Beer, Pieter Pieterse en Ella en Linton Burger, gaan saam met lede van ander klubs in Limpopo aan die toernooi deelneem. Die wedstryde sal in verskillende dorpe op verskillende bane beslis word. Stompie Venter, een van die sewe sterre, gaan egter in Johannesburg deelneem aan die Interdistriktetoernooi vir Veterane.

Tydens die Interdistriktetoernooi speel spanne van al die provinsies teen mekaar. Keurders sal spelers tydens dié toernooi met ʼn fyn oog dophou en uitblinkers kies om aan die SA-kampioenskappe deel te neem.

Linton Burger, voorsitter van Mogolrolbalklub is besonder trots op dié prestasie aangesien Mogol se rolbalklub relatief klein is in vergelyking met die groter dorpe se klubs. Dié sewe spelers wat dus gekies is om Limpopo te verteenwoordig verdien ʼn klop op die skouer.

Die klub wens hulle sterkte toe.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.