Mogol gholf sluit jaar af

LEPHALALE — Mogolklub se gholfsubseksie het die jaar Saterdagaand 1 Desember feestelik by die klubhuis afgesluit. Hennie Pepler van Plan B het gesorg vir die musiek terwyl Gert Pepler, die nuwe klubkaptein, almal verwelkom het. Frans Faber, addisionele komiteelid, het die bedankings waargeneem. Len Steyn, nuutverkose president, het in paar woorde almal wat nog die gholfstokke opneem bedank en gesê daar word volgende jaar ’n hele paar positiewe veranderinge in die vooruitsig gestel. Hy het veral die juniors en dames uitgenooi om deel te word van Mogolklub se gereelde spelers.

V.l.n.r.: Jean Kukard, Marieta Steyn, Len Steyn (president) en Gerhard Pepler

Die hoogtepunt van die aand was toe die trofeë aan die kampioene oorhandig is.

Die damesklubkampioen is Marieta Steyn, in die C-divisie Jean Kukard, die B-divisie Hannes Botha en in die A-divisie Gerhard Pepler.

Enkelputjieplaatwenner is Doug Hartman, en die wenner is Jono Steyn. Die dubbelputjieplaatwenners is Johan Nel en Louis Esterhuizen met pa en seun Len en Jono Steyn die bekerwenners.

Johan Nel word aangewys as Senior Speler van die Jaar. “Johan Nel is ’n “legend” en altyd lojaal teenoor Mogolgholfklub!” is hoe Gert vir Johan beskryf het. Johan is boonop die speler wat met 160 rondes die meeste gholf vir die jaar gespeel het. Hy verteenwoordig die Limpopo seniorspan by die Interprovinsiale byeenkoms en verder is hy altyd gewillig om ander te help met swaaiwenke.

Jono Steyn is aangewys as Junior Speler van die Jaar. Gert het gesê Jono het ’n merkwaardige jaar agter die rug. Afgesien van die feit dat dit sy matriekjaar was, het hy baie goed presteer en Mogol gholfklub se naam hoog gehou met sy deelname as Limpopowenner in die B-divisie by die “National Champ of Champs” op Glendover.

Die hoogtepunt was toe die huidige klubkampioen, Gerhard Pepler, as Speler van die Jaar aangekondig is. Gerhard het ook vanjaar sy toetrede tot professionele gholf gemaak. (Sien berig op die agterblad).

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.