Mogol Krieket

LEPHALALE — Mogolklub se krieketspan het die afgelope naweek ‘n wedstryd in Modimolle (Nylstroom) gespeel en volgens die afrigters het hulle amper soos die Proteas op die veld vertoon.
Mogol het eerste veldwerk gedoen en die pap reeds vroeg-vroeg dik aangemaak teen hul opponente se openingskolwers. Met die sterk boulaanval van Mogol kon Nylstroom se kolwers nie baie lopies aanteken nie en hulle het hul paaltjies met roekelose houe verloor. Jaco Hurn van Mogol is as Bouler van die Dag aangewys. Hy het vyf paaltjies platgetrek vir 21 lopies in sy vier boulbeurte en so gesorg dat die tuisspan almal uit was vir 118 lopies.
Tussen die ruil van beurte het Mogol se kaptein mooi met die manne gepraat en hulle gemaan om kop te hou op die onvoorspelbare blad.
Mogol se aanvangskolwers het die lopies laat lóóp – Nico Beukes het omtrent amok gemaak onder die boulers en slaan sy vyftigtal in amper die helfte van die balle. Hy eindig op 56 lopies nie uit nie saam met Jaco Hurn op 41 nie uit nie.
Mogol behaal die wentelling vroeg in die elfde beurt en verseker so ‘n gemaklike oorwinning met ‘n bonuspunt.
Die afrigters meen Mogol Krieket staan weer ‘n goeie kans om die Pro 20-kompetisie te wen as hulle teen dié tempo aanhou speel.
Hulle bedank die borg van die bussie vir al die wedstryde wat weg gespeel word.
Die volgende wedstryd is op 16 Oktober op tuisveld en almal word uitgenooi om hulle te gaan ondersteun.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.