Mogol verslaan Vaalwater

Mogol-vs-Vaalwater

Leoni Kruger
LEPHALALE — Mogol rugbyklub speel Saterdag 16 April hulle eerste ligawedstryd vir 2016 teen Vaalwater en hulle verslaan die Valies met ‘n wentelling van 56-0.
Puntemakers was Nils Meiring (een drie), Sven Schutte (een drie), Marikus Cloete (een drie), Armand Davies (drie drieë), Ruan de Jager (een drie) en Freddie Welman (een drie).
Sven Schutte en Heini Markgraaf het hulle skopskoene aangehad en hulle het die bal na al agt drieë met gemak tussen die pale deur geskop.
Sven Schutte en Theo van Staden was gekies as Spelers van die Wedstryd.
Die afrigters wens die hele span baie geluk en sê hulle het die wedstryd gewen met toewyding, goeie dissipline en ‘n wonderlike spangees.
Hulle bedank Vaalwater Rugbyklub, Riaan Frey (skeidsregter) en die noodhulpspan vir hul bydraes.
Die bestuur bedank ook die gemeenskap in besonder vir die wonderlike ondersteuning.
Mogol rugbyklub se volgende wedstryd is op 6 Mei wanneer hulle teen Amandelbult gaan kragte meet.
Die volgende wedstryd is Vrydag 22 April in Nylstroom teen Nylstroom.
Mogol Pos het ook gesels met Kassie Knoetze en Hendry van Aswegen, onderskeidelik hoof- en hulpafrigter van Vaalwater rugbyklub.
Kassie sê hulle beplan om ‘n suksesvolle 2016-seisoen te hê – “ons het ‘n klomp jong manne wat lus is vir rugby en ‘ou manne’ wat hul pad teruggevind het na die klub en ons is baie dankbaar daaroor. Die ou manne help met struktuur en dissipline op die veld en hulle motiveer die jonger generasie”.
Kaptein Jaco Louw sê die wedstryd teen Mogol was baie hard en Mogol het ‘n uitstekende span.
“Vaalwater sal egter in rondte twee weer teen Mogol te staan kom op tuisveld en dié keer sal ons aan ons foute werk en met mening terugveg” sê Louw.
Hulle speel Vrydag 22 April vanaf 20:00 teen Northam op tuisveld en nooi die gemeenskap uit om hulle te gaan ondersteun.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.