Mogolrugby begin seisoen

LEPHALALE — Mogolrugby het 2018 met twee opwarmingswedstryde begin – die eerste wedstryd was op 24 Februarie teen Brits en die tweede was op 10 Maart teen Benoni. Hulle verloor albei wedstryde, maar afrigters Freddie Welman en Lloyd Seleka is baie positief oor die seisoen wat voorlê en hulle sien uit daarna om al die nuwe talent deel te maak van die Mogolrugbygroep.

“Die 2017-Waterberg en Limpopo Reserweligawenners het vele nuwe uitdagings en die span moet mekaar van voor af leer ken en vind,” sê Freddie.

Die liga begin amptelik Vrydag 6 April by Mogol se velde. Mogol se tweede span skop om 19:30 en die eerste span om 21:00 af. Beide spanne speel teen Thabazimbi.

Volgens Welman is Thabazimbi een van die nuwe klubs wat vanjaar aan die liga gaan deelneem.

Mogolrugby is vanjaar boonop 35 jaar oud en daar lê ’n groot uitdaging voor om die beker op hulle 35ste verjaarsdag tuis te hou.

Daar word ʼn “Golden Oldies”-geleentheid beplan vir 21 April waar Mogol kragte sal meet met Loskop. Daar sal ook ʼn gelukkige trekking wees en ʼn veiling waar twee spesiale truie opgeveil gaan word.

Nog heelwat borge word benodig en die span doen ʼn beroep op besighede en individue om betrokke te raak.

Die afrigters en spelers nooi almal uit om hulle Vrydag 6 April te gaan ondersteun. “Daar is goeie rugby, ietsie te ete en ʼn kontantkroeg,” sê hulle.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.