Mogolrugby reg vir jaar

LEPHALALE — Mogol se eerste rugbyspan het Vrydag 6 April vir die eerste keer in vier jaar te staan gekom teen Thabazimbi se eerste span op Mogol se velde.

Die pawiljoen was stampvol, die braaivleisvure het gebrand, die musiek het gespeel en die ondersteuners was op die punte van hulle stoele ten aanskoue van ʼn baie spanningsvolle eerste ligawedstryd.

Dit was ’n fisiese wedstryd met goeie duikslae en hardlooprugby. Van voorspelers tot reserwes het hulle beste gegee en alhoewel skeidsregter Riaan Frey sy hande vol gehad het, het hy homself goed van sy taak gekwyt.

Die eindtelling was 8-14 ten gunste van Thabazimbi. John Ross en Bronwin Crail van Mogol het onderskeidelik ʼn drie gedruk en ʼn strafskop oorgeskop.

Volgens afrigters Freddie Welman en Lloyd Seleka is hulle na ʼn week van harde werk en voorbereiding gereed vir die wedstryd teen Naboomspruit (Mookgophong) – nog ʼn nuwe span in die Waterbergliga.

Die afrigters sê daar was baie hanteringsfoute deur Mogol en die dissipline op die veld was nie heeltemal op standaard nie, maar as daar in ag geneem word dat 80% van die span bestaan uit nuwe spelers wat vanjaar eers by Mogol betrokke geraak het, kan dit voortaan net beter gaan. Hulle glo dat Mogol baie goed gaan doen in die liga vanjaar.

Pierre Malherbe, voorsitter van Mogolrugby, bedank alle borge wat elke keer bydra tot ʼn suksesvolle wedstryd.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.