Mogolrugby stoom voort

LEPHALALE — Mogol se eerste en tweede rugbyspanne het Vrydagaand 21 April op tuisveld kragte gemeet teen Nylstroom en Phagameng onderskeidelik.
Mogol se eerste span wen teen Nylstroom met ‘n telling van 36-25 en afrigter Freddie Welman sê die deurslag tot hierdie wen was aanhoudende man-op-man-verdediging en die honger vir die satisfaksie van oorwinning.
Uitblinkers in hierdie wedstryd was onder andere Albert Maritz (slot) met sy uitmuntende duikslae wat Mogol heeltyd op die voorvoet gehou het.
Puntemakers was JP Fereira (haker), Nico Fourie (stut), Ruan de Jager (agtsteman), Jean Myburgh (binnesenter), Stephen Shepherd en natuurlik kaptein Jaco Louw (buitesenter) met sy onderskep-drie diep vanuit Mogol se eie gebied. Jean Myburg het drie drieë verdoel.
Mogol se tweede span wen 21-0 teen Phagameng en Welman sê die deurslag tot hierdie wen was die uitstekende spangees en voorvoetballe deur die voorry wat die agterlyn in goeie momentum kon kry.
Uitblinkers in die wedstryd was onder andere Heinri (“the magic”) Markgraaff wat met sy systapvermoë die verdediging altyd aan die raai gehou het. Corne van Zyl (stut) is aangewys as Man van die Wedstryd omdat hy volgens Welman “meer gedoen het as wat van ‘n stut verwag word”.
Puntemakers was Vernon Crail (agtsteman), Stephen Shepherd (skrumskakel), Jacques Fullard (buitesenter) en Divan Clur wat drie skoppe uit drie oorgeskop het. Dit was Divan se laaste wedstryd vir Mogol en sy talente gaan vir seker gemis word.
Soos na enige harde wedstryd was daar ‘n paar beserings en Mogol wens almal ‘n spoedige herstel toe, in besonder vir Cameron Potgieter wat harsingskudding opgedoen en in die hospitaal opgeneem was.
Die klub rig ‘n besonderse woord van dank aan Nick du Toit en sy mediese span vir die tyd wat hulle afgestaan het om aandag te gee aan elke besering.
Die klub sê ook baie dankie aan Attie Buitendag van die Limpopo Blou Bul Unie wat al die pad van Polokwane af gery het om Mogolrugby te ondersteun. Alle borge word ook bedank vir hulle bydraes om te verseker dat die aand ‘n groot sukses was.
Mogolrugby se volgende wedstryd vind op 5 Mei in Bela-Bela plaas teen Kwagga rugbyklub.
Ondersteuners word gevra om Mogol asseblief te gaan ondersteun.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.