Mogolrugby tuisfinaal

LEPHALALE — Mogol Rugbyklub speel Vrydag 14 Julie om 20:00 ‘n finaal teen Nylstroom Rugbyklub op Hoërskool Ellisras se velde. Mogol het vanjaar uitstekende rugby gespeel.
Afrigters Freddie Welman en Arnold Basson is baie positief dat Mogol die beker gaan vat en hulle nooi die dorp se inwoners om hulle te gaan ondersteun.
Daar gaan ‘n snoepie wees wat koeldrank verkoop, maar die organiseerders sê almal is welkom om ‘n koelhouer saam te neem met eie drinkgoed. Toeskouers kan ook langs die veld braai met gasbraaiers. Daar word ongelukkig nie oop vure toegelaat nie, dus geen houtbraaiers nie. Die Speler van die Wedstryd gaan bederf word met pryse vanaf Mogolrugby se borge. Daar is ook ‘n prys beskikbaar vir een gelukkige ondersteuner.
Die afrigters en komitee bedank al die borge wat vanjaar by Mogolrugby betrokke was.
“Elke speler het vanjaar sy beste gegee en die klub verdien om ‘n tuisfinaal te hê. Volgens ons is dit die eerste keer in ten minste tien jaar dat Mogolrugby ‘n tuisfinaal speel” sê Welman.
Die gemeenskap word versoek om Mogolrugby Vrydag te gaan ondersteun.
Die afskop is 20:00, maar almal is welkom om vanaf 18:00 op te daag.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.