Mossies maar man

LEPHALALE — Ellisras Kleuterskool, die regte plek vir enige kleuter om sy of haar skoolloopbaan te begin, het Saterdag 13 Oktober hul jaarlikse interkleutersportdag by die sportgronde van Hoërskool Ellisras aangebied. Die doel van die byeenkoms is deels om jong kinders te leer om te kompeteer, maar ook om te sosialiseer.

Kleuters het in verskillende ouderdomsgroepe aan baan- en velditems deelgeneem onder andere 40, 50 en 60 meter resies, verspring, hoogspring en gewigstoot – al was dit nie die ware Jakob nie, is daar hard probeer om die plastiekbal te raak in hoogspring en om vanaf ʼn stilstaande posisie te kyk hoe ver daar in die sandput gespring kan word. Gevulde sakkies is in die gewigstootitem gebruik.

Na afloop van die kleuterskoolsport, het van die laerskoolleerders die naellope aangedurf, waarna die ouers ook gewys het watter atletiektalent nog in hulle steek.

Elke kind het ʼn medalje ontvang vir deelname, terwyl sertifkate aan die eerste drie plekke oorhandig is. Trofeë is oorhandig aan die naelloopwenners.

Loraine van der Watt, hoof van Ellisras Kleuterskool, bedank almal wat opgedaag het om die dag saam met hulle te geniet en nooi al die kleuterskole uit om volgende jaar gedurende Februarie weer aan die interkleutersportdag deel te neem.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.