
LEPHALALE — Die gesogte Beeldtrofee lê na die afgelope naweek se goeie spel heel gemaklik binne bereik vir Hoërskool Ellisras se o. 16-rugbyspan. Dié span het Saterdag 20 Augustus vir ‘n naelbyt uitspeelwedstryd gesorg in die Beeldtrofee semifinaal teen Hoërskool Leeuenhof in Boksburg en hulle seëvier met ‘n telling van 48-17.
Die drieë is ingeryg. Quanne Vorster, Hannes Pretorius, Nico Oosthuizen en Stephan Jansen van Vueren druk elk een drie, Gerrie Blom druk twee drieë en Steyn van Staden slaag met een drie, een strafskop en vier doelskoppe. Hy het seker gemaak hy lewer ‘n vertoning wat nog lank onthou sal word.
Die talentvolle o. 16-span speel eerskomende Saterdag, 27 Augustus, in die Beeldtrofee-finaal teen Hoërskool Schoonspruit van Brits. Die wedstryd word in Vryburg gespeel.
Volgens die afrigters is dit altyd wonderlik om te sien hoe die ouers van heinde en verre opruk om hulle kinders naweek na naweek te ondersteun. Hulle sê dit is ‘n bydraende faktor tot die span se sukses.
Skoolhoof Louis Campbell het sy vertroue en hoop uitgespreek dat hierdie span die trofee Bosveld toe sal bring – soos die vorige twee jare.