Pa en Seun wen weer

Leoni Kruger
LEPHALALE — Hennie en Werdie van Staden van Mogol Nyala Boogklub het die naweek van 18 Maart oor drie dae aan die SA Fieldkampioenskappe te Hartbeespoortdam deelgeneem en goed gevaar.
Werdie het in die Adults Male Field Unlimited (AMFU) afdeling deelgeneem met afstandskiet tot 80 jaart. Hy behaal die eerste dag die hoogste telling, naamlik 543 uit 560. Hy behaal ‘n algehele tweede plek (silwer) in die SA’s en word gewen deur Koos de Wet van Bloemfontein wat met goud wegstap.
Hennie neem deel in die Adult Male Bow Hunter Unlimited (AMBU) en behaal ook ‘n tweede plek (silwer). Willem van Schalkwyk van Rustenburg, wat reeds twee keer as wêreldkampioen gekroon was, wen Hennie met net 11 punte.
Die bekende Van Stadens ontvang dus die afgelope naweek Noord-Transvaal- en SA-kleure en is twee van agt wat vir die Springbokspan gekies is.
Hennie en Werdie is albei gekies om in Junie vanjaar aan die wêreldkampioenskappe in Italië deel te neem, maar Hennie sê hulle het onttrek omdat dit eenvoudig te duur is om te gaan. Johan Human gaan Mogol Nyala Boogklub wel by die wêreldkampioenskappe verteenwoordig.
Die volgende groot kompetisie is om die draai en Hennie en Werdie gaan aan die einde April Windhoek toe om deel te neem aan die African Regional Archery Championships (ARFAC) wat van 29 April tot 1 Mei gehou word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.