Pistoriuse lief hul perde

LEPHALALE — Hannes Pistorius en sy seuns, Johan en Fred, is lede van Mogol Perdryklub se Pensteek wat vir die Waterbergspan deelneem. Pensteek wat beter bekend staan as “Tentpegging of Gymkhana”, is ‘n jare-oue sport wat eers vir die afgelope vier jaar by Mogol Perdryklub beoefen word.
Hannes Pistorius is vir die derde agtereenvolgende jaar verkies tot lid van die Limpopo Pensteekspan wat Limpopo tydens die interprovinsiale kampioenskappe gaan verteenwoordig.
Die kampioenskappe vind Maandag 3 Oktober 2016 plaas by Pienaardam in Middelburg, Mpumalanga. Die Suid-Afrikaanse senior kampioenskap vind plaas van 5 – 7 Oktober. Johan is nog ‘n jong ruiter, maar hy gaan aan die senior SA-kampioenskappe deelneem.
Johan en Fred het geskiedenis gemaak deur vir die eerste keer verkies te word as deel van die Limpopo Pensteekspan. Dié span gaan Saterdag 10 Desember 2016 aan die interprovinsiale – sowel as die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelneem, wat 12 en 13 Desember gehou word.
Die Mogol/Waterberg pensteekspan het die naweek van 16 Julie aan die Mpumalanga-kampioenskap te Middelburg deelgeneem en ‘n eerste plek sowel as verskeie derde plekke behaal.
Johan het die moeilikste item vir die dag gewen, naamlik “skill-at-arms”, wat uit ‘n volle 42 punte tel! Fred het sy persoonlike beste telling behaal.
Skakel die Mogol Perdryklub vir meer inligting oor die sport of skakel Hannes by 082 925 8712 vir enige navrae of inligting.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.