Pro-Amm Vuurwapenfees 2016

Vuurwapenfees 2016. Pa en seun wenspan. Tienie van Rooyen wat die algehele Pro-Amm groeperingskiet gewen het. Thinus, sy seun, het eerste plek gekry vir die Juniors Aktiewe Jag
Vuurwapenfees 2016. Pa en seun wenspan. Tienie van Rooyen wat die algehele Pro-Amm groeperingskiet gewen het. Thinus, sy seun, het eerste plek gekry vir die Juniors Aktiewe Jag

STEENBOKPAN — Dr Willie Barnard het 18 jaar gelede ‘n droom gehad om ‘n Vuurwapenfees te begin in die vorm van ‘n familiedag waar almal saam kan kuier en vuurwapens kan waardeer. Dié droom het waar geword en die 18de Vuurwapenfees is Saterdag 27 Augustus by dr. Willie se Knapskootskietbaan gehou. Die hoofborg vir die geleentheid was oudergewoonte Pro-Amm.
Volgens dr Willie is die groeperingskiet vir seker die item op die program wat mense van heinde en verre na die fees lok. Skuts van so ver as Vereeniging, Pretoria en Bethal het opgedaag om hulle ammunisie te toets of om te kyk of hulle ‘n groepering kleiner as 18 mm met drie skote kan skiet of moontlik die kleinste groepering vir die dag kan skiet.
Alle skuts wat ‘n groepering van 18 mm en minder skiet, kwalifiseer om aan die Pro-Amm Nasionale kampioenskappe in Pretoria deel te neem – ‘n groot eer vir enige skut.
Inskrywings begin reeds die Vrydagaand en die eerste skote klap om 07:00 Saterdagoggend wanneer die beamptes eerste skiet waarna die ander wegspring.
Tienie van Rooyen word aan die einde van ‘n lang, suksesvolle dag gekroon as algehele wenner van die groeperingskiet. Hy skiet ‘n groepering van 6.9 mm met ‘n .222 Rem.
Tienie wen ‘n kontantprys van R5 000, ammunisie en natuurlik die gesogte Pro-Amm trofee.
Die organiseerders bedank elke persoon wat tot nóg ‘n suksesvolle Vuurwapenfees bygedra het. Hulle maak volgende jaar weer so!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.