Rolbal vier fees

LEPHALALE — Mogol Rolbalklub het Saterdagaand 19 Mei hul jaarlikse funksie by Machauka Lodge aangebied waar spelers vereer is in verskeie kategorieë.

Linton oorhandig ʼn trofee vir die beste vordering deur die jaar aan Rina en Gys van Greuning. Gaan kyk gerus na nóg foto’s van die “rolbalfamilie” op Mogol Pos se Facebook-blad.

Linton Burger, voorsitter, het die lede en hul gades hartlik verwelkom en sy dankbaarheid en trots uitgespreek oor die groei in die klub. Die rolbalklub het vroeër vanjaar tydens die Mogolklub se Sportster van die Jaar-funksie die trofee ontvang vir die Subseksie van die Jaar 2017.

Hans van Rooyen, een van die lede, het gesê dat dit lekker is om te weet dat die “klubfamilie,” soos hy dit stel, gegroei het en dat almal wat nuut aansluit dadelik verwelkom en aanvaar word. Hy het Mogolklub bedank omdat hulle al die sportsubseksies bystaan met hulp, insig en kennis, asook finansieel. Hy het voorts die komitee bedank wat alles insit om seker te maak dat reëlings betyds getref word en toesien dat alles by die klub vlot verloop, maar ook elke lid wat bereid is om hulp aan te bied. “Dit is belangrik om ʼn sukses van Mogolrolbal te maak,” het hy gesê.

Daar is deur die jaar hemde geborg deur verskeie instansies en Hans het die borge spesiaal bedank.

Rentia Fouche is ook bedank vir haar bereidwilligheid om te help met tafelversierings en verversings wanneer funksies by die klub gehou word.

Die aand is gesellig afgesluit met heerlike kos en kuier.

Lus vir rolbal? Skakel Linton by 083 657 4089 of Ella by 082 895 9477. Balle vir oefening is beskikbaar by die klub.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.