Rolbalnuus

LEPHALALE — Mogolklub se rolbalsubseksie het Woensdagaand 14 Maart die uitspeelwedstryde vir besighede aangebied. Lephalale se besighede was goed verteenwoordig, maar Linton Burger, voorsitter van die rolbalklub, het gesê dit is hulle oogmerk dat baie meer besighede in die toekoms sal deelneem.

T-Solutions neem hul wentrofee in ontvangs van Linton Burger, voorsitter van die rolbalklub

Almal is bedank vir goeie sportmangees wat daarvoor gesorg het dat die toernooi ʼn groot sukses was. Linton het voorts die borge en lede van die rolbalklub wat ingespring en gehelp het met tafels dek en kos maak bedank, asook Stompie Venter wat deurgaans gesorg het vir vrolike musiek.

Alhoewel die toernooi daarop gemik is dat besigheidslui sosiaal kan verkeer, het die spanning met die eindrondtes teen laataand hoog geloop en die telbord is kort-kort goed bekyk.

Die span van T-Solutions, bestaande uit Michelle Lottering, Robbie Earle, Johan du Toit en Nic Claassen, het koning gekraai en die wentrofee ontvang.

Linton en Ella Burger nooi belangstellendes uit om by die rolbalklub aan te sluit. Balle vir oefening is beskikbaar. Kontak hulle gerus by 083 657 4089 of 082 895 9477. Mogolklub se rolbalklub was tydens die Sportster van die Jaar 2017-funksie aangewys as die Sportsubseksie van die Jaar.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.