Rugby in sy bloed

Schalk hardloop uit vir sy eerste wedstryd as kaptein
Schalk hardloop uit vir sy eerste wedstryd as kaptein

Leoni Kruger
LEPHALALE — Die 18-jarige Schalk Erasmus is so-te-sê met die rugbybal in die hand gebore. Van kleins af is dit al wat hy wou doen. So het ‘n deel van sy toekomsdroom onlangs waar geword toe hy as kaptein van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) se eerste rugbyspan gekies word. Om vir die Wit Bulle as kaptein uit te draf, is nie vir elke man beskore nie…
Die toekoms lê oop voor dié voorbeeldige jong man – die Blou Bulle het vir hom ‘n kontrak aangebied en hy gaan volgende jaar by Tukkies inval vir sy B Com Rek-graad. En natuurlik rugby speel…
Vra mens vir Jimmy du Plessis van Laerskool Bosveld Primary wat baie nou betrokke was by Schalk se eerste kennismaking met laerskoolrugby, praat hy net met groot lof van dié jong man. Hy reken Schalk se verkiesing tot kaptein van die Wit Bulle is nie toevallig nie, want hy het reeds van jongs af uitgestaan as leier. Behalwe dat sy leierskap op die sportveld uitgestaan het, was hy ook hoofseun van Laerskool Bosveld Primary. “Almal sal hom onthou as een van die Bossies se mees talentvolle sportmanne in sy laerskooljare” sê Jimmy.
Sy ma, Elna, sê daar is byna nie ‘n foto van hom, vanaf kleintyd, dat hy nie met ‘n rugbybal in die hand staan nie. Sy sê daar is niemand anders in die familie wat so in sport uitgestyg het nie, maar hy het sy balvaardigheid definitief van sy pa, Julius, geërf.
Julius en Elna bedank elkeen wat tot dusver ‘n aandeel in Schalk se sukses het – van sy onderwyser in graad R tot waar hy vandag is. “Almal het geglo in Schalk, maar al wat ons kan sê is dit is genade om geseën te wees met talentvolle kinders en ons is baie trots op albei ons kinders. Schalk leef sy passie elke dag uit en hy is honderd persent toegewyd in dit wat hy doen”, sê Elna.
Laerskool Bosveld Primary se onderwysers sê hulle is baie trots op hom en hulle hoop dat sy leierskap en deursettingsvermoë op die sportveld ‘n goeie voorbeeld sal wees vir jong leerders om nooit op te hou om in hul eie moontlikhede en drome te glo nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.