SA’s vir goue pa-en-seun

Werdie, Christiaan en Hennie
Werdie, Christiaan en Hennie

Leoni Kruger
LEPHALALE — Hennie en Werdie van Staden en Christiaan Bronkhorst van Mogol Nyala Boogklub het die afgelope naweek die SA Africa Bow Hunter Ope (ABO) in Pretoria te Magnum Archery bygewoon en uitstekend gevaar.
Werdie word as SA-kampioen gekroon in die Male Bow Hunter Ope (MBO) afstandskat tot en met 50 jaart. Hy skiet Saterdag 19 November ‘n uitstekende telling van 199 uit 220 en Sondag 192 uit 220. Hy skiet beide dae die hoogste telling.
Hennie stap ook weg as SA-kampioen na sy deelname in die Male Senior Release (MSR) afstandskat 45 jaart. Hy skiet die eerste dag ‘n telling van 194 uit 220 en die tweede dag 199 uit 220 en behaal albei dae die hoogste telling. Christiaan neem deel in die Future Hunter’s afdeling (kinders 9 jaar en jonger) tot en met 25 jaart. Hy skiet die eerste dag ‘n telling van 157 uit 220 (volgens Hennie ‘n baie goeie telling) en die tweede dag 86 uit 120. Christiaan het ook Saterdag ‘n medalje vir sy deelname in die Fun Shoot-kompetisie gewen in sy ouderdomsgroep en elke “Future Hunter” is met ‘n goue medalje beloon.
Werdie en die Mosterts van Warmbad (drie in ‘n span) word ook aangewys as silwer medaljewenners uit die deelnemende provinsies en Hennie en twee jongelinge van Tzaneen word gekroon as die Provinsiespan van die Jaar met die algehele hoogste telling.
Die manne van Mogol Nyala Boogklub hou Limpopo se naam hoog. Beide eerste en tweede plek is deur Limpopo verower.
As gevolg van uitsonderlike prestasies deur die jaar word Werdie en Hennie albei gekroon as Triple Crown-wenners en gevolglik Grand Slam-kampioen. Werdie het al drie SA-kampioenskappe gewen – Field tot 80 jaart, Bow Hunter tot 60 jaart en ABO tot 50 jaart.
Hennie kry silwer in die SA Field tot en met 80 jaart, goud in SANEFA tot 60 jaart en goud in ABO tot 45 jaart.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.