Só gaan dit by Mogolrugby

LEPHALALE — Die bestuur en afrigters van Mogol rugbyklub, Freddie Welman en Arnold Basson, sê hulle is baie trots op die rugbyspelers se spel tydens die eerste Assupol liga waaraan hulle die afgelope maand deelgeneem het.
Die uitslae lyk soos volg:
Mogol verloor hulle wedstryd teen Hartbeespoort op 18 Februarie met ‘n telling van 29-46 en Ruan de Jager word as Speler van die Wedstryd aangewys.
Mogol wen hul wedstryd teen Elsburg in Edenvale op 25 Februarie met ‘n telling van 41-21 en Jean Fraser word aangewys as Speler van die Wedstryd.
Mogol wen hulle wedstryd teen Attridgeville in Meyerton op 4 Maart met ‘n telling van 36-19 en Albert Schoeman word aangewys as Speler van die Wedstryd.
Die afrigters sê die spelers oefen baie hard vir die Waterberg Reserweliga en hulle glo die trofee kom vanjaar huis toe. Hulle bedank al die borge vir bydraes.
Mogolrugby en Mogolkrieket beplan ‘n spanboumiddagete vir 18 Maart waar die twee groepe teen mekaar gaan T20 en raakrugby speel. Hulle nooit almal uit om die dag saam met hulle te geniet. Neem ‘n vleisie vir die braai en daar sal ‘n kontantkroeg beskikbaar wees.
Die rugbyklub is tans besig met ‘n fondsinsameling vir die klub en hulle verkoop lootjies teen R100 elk. Die pryse sluit in twee seisoenkaartjies vir Loftus Versfeld, een koedoekoei om te jag (verblyf uitgesluit), een rooibokkarkas, drie maande se lidmaatskapbewys by Srixzone en vele meer. Kaartjies is elke Maandag- en Woensdagaand vanaf 18:00 beskikbaar by die rugbyklub of skakel Recha Welman 079 507 7389.
Die trekking vind plaas op Saterdag 25 Maart na afloop van die vriendskaplike wedstryd op Mogol se veld.
Die klub beplan om die amptelike spanaankondigings en borgoorhandigingsfunksie te hou voor die Waterbergliga begin.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.