@Sold gholfdag van die beste

Manswenners Johan Nel en Ivan Smith

LEPHALALE — @Sold Eiendomme met eienaars Arona Rossouw en Francois Campher het Saterdag 5 Augustus weer eens ‘n suksesvolle gholfdag by Mogol gholfbaan aangebied. Hulle het soos altyd verseker dat die spelers en gaste die spesiale dag met oorgawe geniet. Die gholfdag is baie goed bygewoon met 144 spelers wat in beterbal-formaat meegeding het vir fantastiese pryse.
Die pittige Pietman Geldenhuys, beter bekend as Pietman die Skot, het die prysuitdeling waargeneem en Bok van Blerk het as gaskunstenaar opgetree vir ongeveer 250 gaste wat by pragtig gedekte tafels kon aansit.
Johan Nel en Ivan Smith het in die eerste plek van die mansafdeling geëindig en hul wen elk ‘n 12 000 BTU-lugversorger. Andre Lombard en Louis Esterhuizen eindig in die tweede plek en word elk beloon met ‘n R5 000 geskenkbewys. Bullet Steyn en Heinrich Piater eindig derde en ontvang elk ‘n geskenkbewys van R4 000. Hennie Pienaar en Quinton du Plessis ontvang elk ‘n R3 000- geskenkbewys vir hul vierde plek.
In die damesafdeling wen die twee susters, Cindy Muller en Caroline Louw, egte leerhandsakke en geskenkbewyse van Aloe Day Spa ter waarde van R2 500. Rika van der Walt en Charleen Reynolds eindig tweede en ontvang ook elk ‘n egte leerhandsak en geskenkbewyse van Aloe Day Spa. Dorette Steyn en Wilmie Schnetler kry elk ‘n beursie van Jackal & Hyde en Aloe Day Spa-geskenkbewyse.
In die juniorafdeling maak Jonty Jarvis en AJ Jonker skoonskip gevolg deur Quinn Harmse en JP Smith. Thebe Jacobs wen die “chipping”-kompetisie en wen ‘n draagbare yskas. Naaste aan die penne was Caroline Louw en sy word beloon met ‘n kampyskas. Francois Vorster het die langste dag op die baan gehad en sy troosprys is ‘n kruiwa, hark en graaf.
@Sold, wat vanjaar 10 jaar oud is, bedank al die borge hartlik vir hul milde bydrae tot ‘n fantastiese gholfdag en vir Jan en Essie Beyer wat gesorg het vir ‘n ete uit die boonste rakke.
Het Mogol Pos jou gekiek?
Gaan loer gerus op Mogol Pos se Facebook-bladsy, “like” die bladsy en “share” gerus die foto’s.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.