Spogbyeenkoms by LBP

Mercia Joubert
LEPHALALE — Die organiseerders, leerders en personeel van Laerskool Bosveld Primary sê dit was vir hulle ‘n eer en voorreg om Saterdag 4 Maart as gasheerskool vir 11 skole op te tree tydens streek een se rugby- en netbaldag.
Die hoofde, afrigters en beamptes is glansryk ontvang en die besoekende skole kon nie uitgepraat raak oor die mooi en netjiese terrein en die uitstekende fasiliteite wat die skool bied nie.
Laerskool Bosveld Primary se sportspanne het ook uitstekende welslae behaal. Die rugbyspanne het ses van hulle sewe wedstryde gewen en die netbal behaal 17 oorwinnings uit 26 wedstryde en speel gelykop in twee wedstryde.
Die organiseerders is dit egter eens dat dit onmoontlik is om so ‘n skittergeleentheid aan te bied sonder die oop hande van die borge. “Julle reuse-aandeel en positiewe gesindheid word opreg waardeer – kinders kan net floreer in sport as daar positiewe ondersteuning van ouers, afrigters en die gemeenskap is. Die skool bedank elkeen wat hard gewerk het om `n sukses te maak van die heuglike dag” sê Loutjie Pretorius, skoolhoof van Laerskool Bosveld Primary.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.