Springbokkie Schalk

LEPHALALE — Schalk Erasmus (19), ʼn oudleerder en voormalige hoofseun van Laerskool Bosveld Primary (LBP) is onlangs gekies vir die Junior Springbok-rugbyspan wat tans in Frankryk toer.

Schalk Erasmus en sy vriendin, Jeandra Pretorius, tydens ʼn geleentheid by die SA Rugby-instituut Stellenbosch toe die Junior Springbokke hulle baadjies ontvang het

Schalk se rugbyloopbaan begin in graad 1 by LBP met bulletjierugby en van daar af was hy van graad 1-7 kaptein van elke ouderdomsgroep se A-rugbyspan. In graad 7 word hy gekies vir die Limpopo Cravenweekspan en in die laaste minute teken Schalk die wenpunte aan met ʼn skop van ongeveer 40 m na die pale toe nadat die span ʼn strafskop gekry het. Dié wenskop het verseker dat die span aangewys was as die wenner van die o. 13-Cravenweek.

Schalk se ouers, Julius en Elna, is baie nederig oor Schalk se talent en prestasies, maar hulle het in sy graad 7-jaar na baie gebede en op aanbeveling van baie mense, die besluit geneem om hom te stuur na die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria waar hy meer blootstelling sou hê.

Hy word in Affies dadelik gekies vir die o. 14A-span en is sommer ook kaptein van die span. Hy was deur sy hele hoërskoolloopbaan kaptein van die A-span in sy ouderdomsgroep.

In graad 12 word Schalk gekies vir die eerste span (Wit Bulle) en hy word weer eens aangewys as kaptein van die span. Hy word in graad 11 en 12 gekies vir die Cravenweekspan en hy was kaptein van die o. 18-Cravenweekspan. Daarna word hy gekies vir die o. 18-SA-skolespan.

Schalk se besondere sporttalent is egter nie beperk tot rugby nie. Hy blink ook uit in krieket en atletiek.

Hy speel van graad 4-7 krieket vir die A-span en word ook hier as kaptein van die spanne aangewys. In ʼn wedstryd teen Laerskool Ellisras in graad 6 slaan Schalk 215 lopies nie uit nie en hy word in graad 6 en 7 gekies vir die Limpopo-krieketspan.

Hy speel ook krieket vir die A-span van graad 8-10 maar daarna moes hy ʼn keuse maak tussen krieket en rugby.

Hy blink ook uit op die atletiekveld. In graad 6 word hy genooi om SA’s toe te gaan vir gewigstoot en spiesgooi en in graad 7 gaan hy SA’s toe vir gewigstoot en skyfwerp waar hy onderskeidelik ʼn silwer en brons medalje ontvang. In die hoërskool het hy van graad 8-11 deelgeneem aan gewigstoot en skyfwerp.

Schalk het dwarsdeur sy skoolloopbaan ook op akademiese gebied uitgeblink en was in graad 12 ʼn lid van Affies se leerlingraad.

Na matriek is Schalk na die WP-rugbyinstituut waar hy vir die o. 19-WP-rugbyspan speel.

Hy studeer BCom Finansiële Rekeningkunde by die Universiteit van Stellenbosch (Maties) en word gekies vir die Maties se “Young Guns”. In Mei vanjaar word hy gekies as die Maties se “Student-Athlete” van die week. Sy reaksie hierop was: “dit is so ʼn voorreg om die geleentheid te hê om te studeer en deel te neem aan die sport waarvoor jy lief is. Om te studeer en rugby te speel is wel moontlik, maar dit is ʼn groot uitdaging. Ek sal altyd moeite doen om die ekstra myl te stap – vir my studies en vir rugby. Die ondersteuning en aanmoediging van dosente en afrigters is egter ook baie waardevol.”

Jimmy du Plessis, Schalk se eerste rugbyafrigter by LBP, sê Schalk het reeds as o. 8-seun vir die o. 9-span uitgedraf. “Sy potensiaal is ongetwyfeld toe reeds raakgesien. Selfs tydens ʼn agterplaaskrieketwedstryd waar hy en my kinders saamgespeel het, het ek besef hierdie seun gaan nog groot hoogtes as sportman bereik weens sy kompeterende natuur en sy weiering om op te gee. Hy het genoeg selfvertroue en ʼn onblusbare wil om te wen. Ten spyte van al hierdie goeie sporteienskappe het hy egter oor die jare steeds nederig gebly en dit is vir my ʼn groot voorreg om te getuig van Schalk se uitsonderlike karakter,” sê ʼn trotse Jimmy.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.