Ster op rolbalhorison

LEPHALALE — Rolbal is ʼn sportsoort waar jy nooit te oud of te jonk is om aan deel te neem nie en immer soekend is na die regte tegniek vir die perfekte aflewering om jou opponent te uitoorlê.

Dorette Wells van Mogol Rolbalklub is onlangs deur die Limpopo-keurders gekies om die naweek van 25 en 26 Mei aan die Meestersenkelspeltoernooi te Polokwane (Pietersburg) in die ope-afdeling deel te neem. Volgens Wally Duncan, president van Limpopo-rolbal, skakelbeampte van Limpopo-rolbal asook sameroeper van afrigters, keurders en perkemeesters, is dit die topspelers wat aan dié toernooi deelneem. Dorette het dus te staan gekom teen ervare spelers en het, ten spyte van die feit dat sy slegs ʼn jaar aan dié sportsoort deelneem, haar staal gewys.

In Sondag se rondomtaliewedstryde het Dorette haar teenstander veral in haar finale wedstryd laat les opsê. Sy het tot en met die laaste aflewering voorgeloop toe haar teenstander twee balle teen haar optel en sy die spel 19-21 verloor. Dorette het vierde in die ope-afdeling vir dames in Limpopo geeïndig.

Tydens die prysuidelingsfunksie het Wally Duncan spesiale melding daarvan gemaak dat Dorette as beginnerspeler (novice) haar stempel duidelik afgedruk het in rolbalgeledere en dat sy “ʼn blink ster op die rolbalhorison is”. Hy het ook gesê dat sy as nuweling groot toewyding en potensiaal toon en dat dit ʼn groot prestasie is om in die finaal te speel.
Dorette bedank almal wat ʼn rol in haar prestasie gespeel het. Sy is baie dankbaar vir dié groot geleentheid en ten spyte van al die mooi woorde onthou sy haar ma se raad: “Onthou wat Douglas Kruger, die openbare spreker in een van sy boeke sê: Moenie desperaat soos die “big cheese” wil lyk nie, want op die end kan jy dalk net baie “silly” lyk – bly nederig”.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.