Stoei is super

LEPHALALE — Mogolstoeiklub het Saterdag, 2 Maart, ’n suksesvolle opedag in Mogolklub se funksiesaal aangebied met deelnemers vanaf Thabazimbi, Swartwater en Pietersburg.

Neels de Jager, Mauritz Grobler en Alfred Swiglaar (beide afrigters by Mogolklub) tydens die opedag

Neels de Jager (34), tans hoofafrigter by Tuks se stoeiklub, het die opedag as afrigter bygewoon.

De Jager se merkwaardige verhaal is dat hy op 4-jarige ouderdom sy femur tydens ’n motorongeluk gebreek het en as deel van sy rehabilitasie het die arbeidsterapeut stoei as sportsoort aanbeveel om hom te help met sy herstelproses. Inderdaad so, want Neels het dadelik begin stoei en het sodanig herstel dat hy reeds op 7-jarige ouderdom SA-kleure in stoei verwerf en talle ander stoeikompetisies gewen het.

Op 15-jarige ouderdom kry hy sy eerste Kadet Proteakleure en op 19 sy senior Protea-kleure.

Neels sê stoei is die beste grondslag vir enige sportsoort. Dit bevorder persoonlike dissipline en selfdissipline, interpersoonlike respek en selfrespek en het ’n fenomenale effek op liggaamsbeheer. Verder ontwikkel stoei natuurlike liggaamskrag en balans en kweek positiewe selfvertroue, wilskrag, uithouvermoë en waagmoed.

Volgens Mauritz Grobler, afrigter van die LTD-stoei by Mogolklub, is die opedag gehou om stoei as sport te bevorder. Swartwater en Thabazimbi se klubs is relatief nuut en dit was ’n gulde geleentheid om almal by die opedag te betrek.

Skakel Mauritz by 083 661 1296 vir enige verdere inligting om betrokke te raak by Mogolstoeiklub.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.