Van Stadens loop voor

Leoni Kruger
LEPHALALE — Mogol Nyala Boogklub se Hennie en Werdie van Staden het die naweek van 20 en 21 Mei te Wildcrete naby Hartebeespoortdam aan ‘n interprovinsiale boogskietkompetisie deelgeneem.
Nagenoeg 600 skuts, waaronder byna 200 skoolkinders, het aan die kompetisie deelgeneem.
Hennie het aan die tweede been van die African Bow Hunter Ope (ABO) deelgeneem en skiet die eerste dag in die Male Senior Release (MSR) afstandskat 45 jaarts ‘n uitstekende telling van 189 uit 220. Hy skiet 194 uit 220 op die tweede dag en behaal goud vir albei dae. Werdie skiet in die Male Bow Hunter Ope (MBO) freestyle tot en met 50 jaarts en hy behaal die eerste dag 193 uit 220 en die tweede dag 101 uit 220. Hy mis sy goue medalje met twee punte.
Beide Pa en Seun is voorlopers vir die Triple Crown wat aan die einde van die jaar aangekondig word. Daar word drie bene gespeel deur die jaar en aan die einde van die jaar word die drie tellings bymekaargetel om die Triple Crown-wenner vir die jaar aan te wys. Daar bly nog een been oor vir vanjaar.
Die volgende kampioenskappe is die Mpumalanga-kampioenskappe wat op 17 Junie in Groblersdal aangebied word.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.