Vyfster gholf

IMG_3671
V.l.n.r. is Eddie Jacobs sr., Doctor Dlamini, Hennie Otto, Riaan Nel, Francois Campher, Jannie Espag en Anton du Plessis. Daar is nog hope foto’s van die geleentheid op Mogol Pos se Facebook. Gaan ‘like’ en ‘share’ gerus …

Ria Wells
LEPHALALE — Laerskool Ellisras, ‘n vyfster-skool, is bekend vir vyfsterprojekte wat hulle deurlopend aanpak. Saterdag, 20 Augustus, het hulle ‘n suksesvolle gholfdag aangebied. Die kersie op die koek was die besoek van Hennie Otto, bekende gholfspeler wat Suid-Afrika op topvlak verteenwoordig.
Die dag het afgeskop met ‘n sakeontbyt by die gholfklubhuis waar Hennie ‘n insiggewende praatjie spesiaal vir die manne gehad het. Die tema was vertroue in God, die Vader as rigtingwyser en helper vir aardse pa’s wat die voorbeeld moet stel en ondersteuning moet bied vir hulle kinders. Tydens die prysuitdelingsfunksie Saterdagaand het Hennie die gemeenskap geloof vir hul betrokkenheid by geleenthede soos dié en dat spelers en hul gades moeite doen om die skool ook tydens die prysuitdeling te ondersteun. As gevolg van ‘n besering kon Hennie nie self aan die gholfdag deelneem nie, maar sê dat hy die dag in Lephalale baie geniet het.
Anton du Plessis, skoolhoof van Laerskool Ellisras het die verwelkoming gedoen. Hy het gesê dat die gholfdag ‘n ongelooflike lekker geleentheid is en dit ook beskryf as ‘n vyfster-gholfdag. 117 spelers het die baan vir ‘n beterbalkompetisie aangedurf. Bedankings het gegaan aan die borge wat pryse van hoogstaande gehalte geskenk het, gholfspelers wat met ‘n wonderlike gesindheid deelgeneem het, die nuwe gholfkomitee vir hul ondersteuning, Jan Beyer en die Mogolklubspan vir die goeie toestand van die baan, Melanie Malan, ondervoorsitter van die beheerliggaam en die komitee vir hul uitstekende werk, die personeel en ouers vir hul betrokkenheid, Gerhard Pansegrouw vir die waarneming van die prysuitdeling, Gert du Plessis vir die veiling en dan natuurlik Hennie Otto wat besondere waarde tot die dag bygevoeg het. “Ons sien julle weer volgende jaar by Laerskool Ellisras se gholfdag”, het Anton mee afgesluit.
Die wenners was as volg: Jannie Espag en Francois Campher wen die kompetisie gevolg deur Riaan Nel en AW Besseling in die tweede plek en Doctor Dlamini en Eddie Jacobs sr. in die derde plek. Die langste dryfhou is geslaan deur Gerhard Pepler jr. en naaste aan die penne was Doctor Dlamini op putjie 8 en Shane Pienaar op 11.
Laerskool Ellisras kan met reg trots wees op dié geslaagde gholfdag wat afgesluit is met heerlike kos en kuier in ‘n genotvolle en feestelike atmosfeer. Bravo!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.