Wêreldklas Dario

EHS-Dario-Geyser
Dario Geyser van Hoërskool Ellisras is ‘n wêreldklas-swemmer

LEPHALALE — Dario Geyser, ‘n graad 11-leerder van Hoërskool Ellisras, is Vrydag 22 Julie weer eens Pretoria toe vir bloedtoetse. Hierdie toetse word gedoen om vas te stel of sportmanne en -vroue wat besonder goed presteer nie dalk verbode middels gebruik nie. Dario sê hy was glad nie op sy senuwees nie, want hy weet hy swem van nature goed sonder die hulp van verbode middels.
Dario het nie minder as 21 medaljes gedurende die 2016-seisoen verower en hy is by twee galas as Victor Ludorum aangewys. Hy is tans eerste op Swem Suid-Afrika se o.16-ranglys in die 50 m en 100 m vlinderslag en vyfde in die 50 m vryslag en 50 m rugslag.
Vroeër vanjaar, tydens die SA Nasionale Senior Kampioenskappe wen hy ‘n goue medalje in die 50 m vlinderslag en word daarmee, op 16-jarige ouderdom, die vinnigste o.19-swemmer in Suid-Afrika. Hy is nou 16de onder die professionele swemmers – die jongste onder manne soos Chad le Clos.
Op hierdie stadium berei hy hard voor vir die Commonwealth Youth Games en die African Youth Games van 2017, maar intussen swem hy swembaddens regoor die wêreld aan die brand. Gedurende Augustus gaan hy deelneem aan die Suid-Afrikaanse Senior Nasionale Kampioenskappe in Pietermaritzburg en in Oktober aan die Fina/Airwaves World Cup in Dubai, Singapore, Moskou, Tokio en Hong Kong. Hier gaan Dario teen die beste swemmers ter wêreld te staan kom.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.