Wêreldklas in klein formaat — Elmé Young

LEPHALALE — Elmé Young. Godvresende vrou, wederhelf van pastoor Johann Young van die Agapé-gemeente, ma van vier seuns en Suid-Afrikaanse atleet. Net ’n paar bakstene hoog met die mooiste bene!

Elmé het op skool aan atletiek deelgeneem maar nadat haar eerste seun gebore is, het sy dit eers gestaak. Dit is eers weer hier in Lephalale wat die atletiekgogga haar gebyt het.

Elmé het vanjaar aan die SA Meestersbyeenkoms deelgeneem en daar het sy in al haar items vir SA-kleure gekwalifiseer.

“Ek was bevoorreg genoeg om van 5-15 Oktober vanjaar aan die Wêreldmeestersatletiek-byeenkoms in Malaga, Spanje, deel te neem. Dit was so ’n inspirasie om aan ’n byeenkoms deel te neem waar die wêreld se beste atlete teen mekaar kompeteer,” sê Elmé.

90 lande is by dié byeenkoms verteenwoordig en ongeveer 10 000 atlete het deelgeneem.

Elmé sê die gehalte van die atlete was uitstaande. “Dit was hoendervleismooi om daarna te kyk”.

Wat Elmé se ervaring nog meer besonders maak is die feit dat dié byeenkoms die grootste van sy soort was wat nog aangebied is.

In Elmé se items (100 m, 200 m en 400 m) was daar 50 atlete teen wie sy meegeding het met ses uitdunne in elke item.

Sy het in al haar items na die semi-finaal deurgedring en was uiteindelik tiende in die 100 m, 14de in die 400 m en 18de in die 200 m in die wêreld in haar ouderdomskategorie.

Sy sê sy was die eerste twee weke alleen in Spanje en dit was ’n groot aanpassing en uitdaging om haar weg op haar eie te vind. “Die byeenkoms was by vier verskillende stadions aangebied en ’n mens moes die roetes met busse of ondergrondse treine behoorlik navigeer. Vir ons Suid-Afrikaners is dit maar vreemd. Johann het die laaste week by my aangesluit om die laaste deel van die atletiek te sien en my te help met al die logistieke reëlings,” sê sy.

Johann en Elmé het na afloop van die byeenkoms die geleentheid gehad om Spanje te verken en iemand het vir hulle verblyf in Madrid gereël.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring en voorreg om so bietjie alleentyd te spandeer en die land se ryk geskiedenis en indrukwekkende geboue te waardeer.

“Dankie aan die gemeenskap wat hierdie geleentheid vir my moontlik gemaak het – deur finansiële borge, omgee en versorging van ons vier seuns wat tuisgebly het of om net die kantoor en gemeente aan die gang te hou. Julle is ongelooflik en ons waardeer die Ellisrasgemeenskap uit ons harte,” sluit Elmé af.

Hola!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.