Redakteursbrief — 10 Nov 2017

Deesdae is dit nie net die rioolkwessies waarmee mens moet kophou nie. Dis nou ook die drinkwater en die druk (of die gebrek aan druk) waarmee daar rekening gehou moet word.
‘n Water-en-ligte WhatsApp-groep is ʼn hele ruk gelede geskep sodat inwoners met soortgelyke waterprobleme by mekaar kan kla en oplossings probeer kry. Die mense bak nou nie meer mooi broodjies nie, hulle noem die ding by die naam! Steeds geen oplossings nie.
Soos gewoonlik word daar nie eintlik direkte deursigtige antwoorde op ons vrae verskaf nie. Baie neutrale en half niksseggende antwoorde is die norm.
Intussen is die inwoners sonder water – ʼn probleem wat, soos ek dit verstaan, eintlik lankal opgelos kon gewees het as die Munisipaliteit die raad en bystand wou kry van kenners wat jare se ondervinding het. Waarom onderdele van die buiteland af kry? En dan weer van die verskaffers in Phalaborwa?
Ek is hoegenaamd geen kenner op hierdie gebied nie, maar ek is seker ek ruik ʼn rot.
En om alles te kroon, terwyl die dorp uitmekaar val, die rioolkwessie nooit ophou nie, die mense nie water het nie – kry Lephalale Munisipaliteit sowaar ʼn toekenning vir die skoonste dorp in die Waterbergomgewing. As dit nie November was nie, was ek oortuig dit is 1 April en ons die Aprilgekke.
As Lephalale Munisipaliteit die toekenning kry vir die skoonste dorp in die Waterberg sidder ek om te dink hoe die ander dorpe lyk …
Liewe lesers – geniet ʼn wonderlike week in die skoonste dorp – dit is darem amper middel November – dan is daar weer water né?
(Lees gerus Kobus Roux se brief oor Lephalale se drinkwater op bladsy 6).
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.