Redakteursbrief — 15 Des 2017

En so is die jaar verby. Binne ʼn oogwink. 2017 was ʼn vreemde jaar.
In ons dorp het daar vanjaar dinge gebeur wat net te vreemd en tragies is dat mens dit ooit sal kan vergeet.
Scott van Zyl se verdwyning en dood, die 11-jarige Kristian Prinsloo wat ʼn dag na sy 12de verjaarsdag dood is nadat hy in Lephalale deur ʼn leeumannetjie aangeval is; die aanval en moord op die Emslies. Slégte dinge wat lewens onherroeplik verander.
2107 sal ook deur die inwoners van Onverwacht onthou word as die jaar met die waterdrukprobleme. Eindelose waterprobleme.
En wat is ʼn jaar nou sonder proteste en optogte?
Ek onthou vir ook vir Anicia Molongoana, ʼn sakevrou van Marapong wie se dogtertjie gebrand het in haar kamer. Anicia was ʼn paar keer by my in die kantoor, haar dogtertjie wou nie meer praat nie …
Almal het na Flora Moatshe gesoek – totdat haar vriend later erken het hy het haar doodgemaak en haar liggaam in ʼn vlak graf begrawe. Flora was net 29 jaar oud.
Gelukkig is die verlede daar waar dit hoort.
My wens vir elke leser, adverteerder, vriend en vyand is ʼn geseënde feestyd vol liefde en samesyn saam met vriende en familie.
Mag elkeen van julle die nuwe jaar met nuwe krag aanpak. Vol vertroue, hoop en nuwe verwagtinge vir die toekoms.
Dankie vir almal se ondersteuning deur die jaar.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.