Redakteursbrief — 16 Feb 2018

Hierdie uitgawe van Mogol Pos is die eerste uitgawe in die koerant se 23ste jaar. Vrydag 16 Februarie vier Mogol Pos 22 jaar as nuusvennoot van Ellisras/Lephalale. Van dié 22 jaar is ek amper agt jaar deel daarvan.  

Mogol Pos het my geleer dat ʼn gemeenskapskoerant in ʼn dorp ontelbaar anders is as ʼn koerant in die stad. Hiér het ek geleer dat die hele gemeenskap betrokke is by iemand se seerkry of vreugde. Dit raak jou elke keer. Ek het geleer dat daar nog koerante met integriteit is. Wat die waarheid en feite publiseer en skinderstories met ʼn knippie sout vat. Wat spelling en spelreëls ernstig opneem, want as jy nie eers omgee om reg te spel en die spelreëls na te kom nie, hoe kan jy verwag die lesers moet jou ernstig opneem? Natuurlik is niks of niemand perfek nie, maar die personeel by Mogol Pos streef daarna om elke week bogenoemde na te kom.

Ek kan natuurlik nie ʼn woord rep oor Mogol Pos sonder om Dries van Rooyen, stigter van Mogol Pos, se naam te noem nie. Dries is 81 jaar oud, maar ons leer steeds by hom. Hy is steeds betrokke by die koerant, het ʼn besondere skerp oog met proeflees en hy dra altyd die koerant en personeel se belange op die hart. Ons salueer jou Dries!

Ek wil tog vir Anton du Plessis, vorige skoolhoof van Laerskool Ellisras, hier bedank vir sy lojaliteit teenoor Mogol Pos. Hy was altyd nederig dankaar as ons geleenthede bywoon en het ons met ope arms ontvang. Laerskool Ellisras se verlies is Hoërskool Nylstroom se wins. Baie sterkte aan die hele Du Plessis-gesin met die groot skuif na Modimolle.

Wanneer jy hier lees is Valentynsdag reeds verby. Ek is elke jaar opgewonde oor hoeveel mense nog in liefde glo en dit vir mekaar wys. Mag jy elke dag geliefd voel en liefde uitdeel. As ek CJ Langenhoven mag aanhaal: “Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.”

Tot volgende week.

— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.