Redakteursbrief — 16 Maart 2018

Die inwoners van Lephalale kla gereeld hier is nie genoeg gesonde vermaak vir (veral) jong mense in die dorp nie. Naweek na naweek word daar by kuierplekke gedrink tot die son opkom. En nié rooi koeldrank nie. Dis ʼn gesuip. By die huis, by die dam, by die rivier, by die kuierplekke.

Waarom was die opkoms by die Mud Run dan so swak? Hier was nou ʼn ideale geleentheid vir jonk en oud om deel te neem aan iets wat jou vir seker van jou sorge sal laat vergeet en jou ʼn slag weer soos ʼn kind sou laat voel.

Daar IS min gesonde vermaak in Lephalale, maak tog gebruik van die geleentheid indien daar wel iets vir die plaaslike mense gereël word.

Dit was ʼn besige week – sportsterre is vereer, die VLU se Bosveldstreekkonferensie is gehou, gholf, EHS se topatlete wat SA’s toe gaan, dames in pajamas, talentvolle tieners, Marakele, arrestasies, ensovoorts.

Baie dankie aan almal wat so gereeld vir ons nuus stuur, as jou storie in hierdie week se koerant is nie, jammer daaroor. Ons kry soveel nuus dat ons moet prioritiseer. Volgende keer is dit weer jou beurt.

My onderhoud met Johan en Ansie Prinsloo is een wat ek sal onthou. In my werk kry ek met so baie negatiewe te doen dat dit een groot vreugde is om met iemand te praat wat ʼn wesenlike positiewe verskil gemaak het en steeds maak. Die les wat mens by hom kan leer is dat jy altyd ʼn keuse het, mense met respek moet hanteer en jouself moet ken. En natuurlik is die twee van hulle so ʼn goeie voorbeeld vir baie – ʼn suksesvolle man wie se vrou steeds sy veilige plek is en wie se volwasse kinders hom steeds bel vir advies. Meneer Medupi.

Baie sterkte aan Paul Scheepers wat van Saterdag- tot Maandagaand langs die pad gelê het na ʼn motorfietsongeluk. Dit moes vreesaanjaend gewees het. Dankie ook aan almal wat hom gehelp het. Lees gerus hierdie week se voorbladartikel vir meer hieroor.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.