Redakteursbrief — 2 Februarie 2018

Die laaste week in Januarie 2018 sal vir die geliefdes van twee mense nooit weer dieselfde wees nie.
Siabelo Sthembiso Zondi en Phalane Nong het in hulle brandende voertuie gesterf na ʼn kop-aan-kop-botsing. Baie sterkte aan hierdie twee mans se geliefdes.
Beeld se Limpopo-verslaggewer stuur hierdie week vir my ʼn boodskap om haar hartseer te deel oor die dood van die 20-jarige Elmien Fourie wat dood is nadat sy serebrale malaria gehad en ʼn bakteriële infeksie in die hospitaal opgedoen het. Net daarna lees ek dat die Wêreldgesondheidsorganisasie wel stappe gaan neem om ernstiger te wees oor die uitroei van malaria. Daar was definitief ook minder malariagevalle in ons omgewing as verlede jaar dieselfde tyd. Kan die min reën hiervoor verantwoordelik wees?
Daar lê ʼn lang pad van herstel voor vir Dawid du Plessis en sy ouers, Phillip en Retha, nadat Dawid deur ʼn Mosambiekse spoegkobra gebyt is. So baie mense het die vraag gevra – waarom het dit juis met die Du Plessis’s gebeur? Hulle harte is so oop vir ander kinders en nou gebeur hierdie met hulle eie kind. Dis net ʼn bevestiging dat daar wel daagliks slegte goed gebeur met goeie mense.
As daar een goeie mens was, dan was dit Connie de Kock wat Saterdag oorlede is. Ten spyte van haar siekte en pyn was sy altyd besorg oor ander. Die laaste keer wat ek Connie gesien het was by ʼn byeeenkoms van die blommerangskikkingklub. Ek was ontsteld oor die plaasaanval by die Emslies en Connie het daarop aangedring om vir my koffie en ʼn broodjie te koop. Dit was dalk ʼn klein gebaar, maar dit het gewys presies wie sy is en hoeveel goed daar in haar hart was. Ek weet Connie rus nou in soveel vrede …
Dalk moet 2018 ʼn jaar van eenvoud en dankbaarheid wees.
Mag Februarie reën bring!
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.