Redakteursbrief

Die jaar 2018. Wat ʼn jaar!

ʼn Kollega vra nou die dag vir my as ek een ding kan uitsonder wat hierdie jaar gebeur het wat ek nooit sal vergeet nie – wat sal dit wees? Ek moes eers mooi dink want daar is baie dinge wat vanjaar gebeur het wat ek nooit sal vergeet nie, maar opsommend is dit dat ek groot genade ontvang het om te onderskei tussen dit wat regtig ʼn verskil maak en dié dinge waaroor dit nie die moeite werd is om energie aan te bestee nie. Wees goed vir ander en maak vrede met die res.

Sy onthou toe hoe ons ʼn ander kollega gesoek het omdat sy nie op haar gewone tyd by die huis aangekom het nie. Ons het die hele GPF op hol gehad. Allerhande verskriklike scenarios voor ons sien afspeel.

Dit is ongelukkig die tyd waarin ons leef né? As iets of iemand uit sy baan spring dan is ons bang iets vreeslik het gebeur, want ons word daagliks gebombardeer daarmee dat daar wel verskriklike dinge gebeur. Sy was terloops later vreeslik verbaas dat ons so oorreageer het.

As ek iets moet opnoem waarmee ek vanjaar te doen gekry het in terme van die dorp, sal ek die frustrasie met die water (of die gebrek daaraan) in Onverwacht uitsonder.

Mens kan nog sonder elektrisiteit oor die weg kom en allerhande slim planne bedink, maar as daar nie water is nie, kan mens nie behoorlik met jou lewe voortgaan nie.

Ons het dus besef dat water nie vanselfsprekend is nie en dat jy net mooi niks daaraan kan doen as dit nie reën nie net soos jy ook niks daaraan kan doen as dit 40˚C is nie. Dit gaan nie help om te kla nie en dit gaan nie help om die temperatuur op Facebook te plaas nie. As dit warm is, is dit warm.

Dit was ʼn jaar waar ek van voor af besef het dat hierdie spulletjie kan saamstaan as daar nood is. Ek dink aan die skoknuus dat Russell en Viola Sadler se huis afgebrand het – wat my bybly is die liefde waarmee die gemeenskap hulle omvou het.

Mag jy en jou geliefdes mekaar ook deur hierdie feesseisoen met liefde omvou. Gesels met mekaar, raak rustig en maak vrede met die dinge wat pla. Bekyk dit van ʼn kant af, stof dit af, trap dit in die grond en begin nuut. Waardeer ware vriende.

Mag 2019 vir elkeen van julle ʼn jaar van lewenskragtigheid wees.

Baie dankie aan elke leser en adverteerder vir vanjaar se ondersteuning en bydraes – ons waardeer dit uit ons harte.

— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.