Redakteursbrief — 25 Mei 2018

Ek het eintlik al verlede week op pad werk toe gehoor van Afriforum se bloudruppelverslag wat aandui dat Lephalale se drinkwater besmet is. Dit het in my agterkop gebly totdat ek dié week met kenners by Exxaro gepraat het oor die moontlikheid van besmette drinkwater.

Wat ek uit dié gesprekke afgelei het is dat dit nie onmoontlik is dat die drinkwater wel besmet kan wees nie, maar wanneer Exxaro (wat verantwoordelik is vir skoon drinkwater) die water “oorgee” aan die munisipaliteit is dit skoon. Wat daarna gebeur is debatteerbaar.

Die watertoetse kan nie sommer gou gedoen word nie – dit moet by ʼn SANAS-geakkrediteerde laboratorium gedoen word, wat Afriforum tot op datum nog nie gedoen het nie. Is dit dus regverdig om ʼn verslag nasionaal vry te stel as die regte toetse nog nie gedoen is nie? Mens is opreg dankbaar vir die werk wat Afriforum doen en dit wat hulle ondersoek is in belang van die hele gemeenskap. Mens is net op soek na die feite.

Baie geluk aan Arona Rossouw van Aloe Day Spa en haar personeel met die wonderlike toekennings wat die afgelope naweek ontvang is. Soos Arona tereg sê, in ʼn dorp soos Lephalale waar ʼn spa ʼn luukse is en nie ʼn lewenswyse nie, is dit seker dubbel so moeilik om ʼn sukses daarvan te maak. Welgedaan!

Tot volgende week, groete!

— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.