Redakteursbrief — 26 Jan 2018

Net voor hierdie koerant sak, kry ons die nuus dat die 5-jarige Dawid du Plessis deur ʼn Mosambiekse spoegkobra gebyt is. Die opgewondenheid van ʼn gesin oor ʼn nuwe lugverkoeler het omgesit in chaos toe Dawid se ma, Retha, in haar oog gespoeg en Dawid op sy hand gebyt is. So kan ʼn mens se lewe in ʼn oogwink verander.
Ons bly in die Bosveld waar slange en skerpioene ʼn realiteit is. En lugverkoelers ononderhandelbaar. Dankie Phillip en Retha dat julle my in julle binnekring toegelaat het en baie sterkte met Dawid se herstelpad.
Die botsing op die ou Vaalwaterpad Dinsdagoggend en my gesprekke met die mense op die toneel het my laat besef die manier hoe die pad verander is, is ʼn probleem. Hopelik kry ons ʼn oplossing.
Geniet die goedvoelstorie oor Binnelandse Sake wat verseker het dat Wilma Lordan haar paspoort in ʼn rekordtyd kry! En soos ek sê, dit is nie die eerste keer dat Mogol Pos goeie dinge oor dié staatmakerdepartement hoor nie. Goeie diens is deesdae so skaars soos hoendertande – die flink personeel verdien ʼn groot pluimpie!
Die Kaap se waterkrisis behoort vir ons almal ʼn “wake-up call” te wees. Die meeste mense lewe asof daar nooit ʼn einde aan ons water gaan kom nie. Die verskil begin by jou en my.
Daar was verskeie voorvalle van inbrake die afgelope tyd en die feit dat nog 2 000 Medupi-kontrakteurs se kontrakte rondom einde Maart 2018 verstryk, maak nie die vooruitsig beter nie.
Lees gerus ook ons opvolgartikel oor “Boelies” en waar hulp beskikbaar is.
Geniet die laaste week van die eerste maand van 2018.
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.