Redakteursbrief — 27 Oct 2017

Ek praat vanoggend met Sakkie (Gawie) Louwrens van die Heritage Protection Group (HPG) wat saam met Lephalale se polisietaakspan werk op onder andere plaasaanvalle en moorde.
Ek het hom eintlik gebel vir inligting oor die verdagte in die Emslie-saak, maar hulle was al weer op pad na die volgende plaasaanval te Roossenekal in Limpopo. Teen druktyd was daar na bewering reeds drie van die ses verdagtes gearresteer. En soos gewoonlik was HPG op hulle pos.
Op dieselfde dag was daar ʼn aanval op Chris Niehaus se plaas – vyf verdagtes. Die gemeenskap het begin paaie toemaak terwyl ek hier skryf.
HPG se mense is afhanklik van borgskappe en skenkings uit die gemeenskappe waarin hulle werk. Hulle kry nie salarisse nie. Ek dink ook nie iemand kan verskil van die feit dat hulle uiters bekwaam in hulle werk is nie. Dis hulle passie. Met hulle jare van ondervinding is hulle bloedhonde op die spore van verdagtes.
Die hartseer deel hiervan is dat baie van hierdie sake wat hulle ondersoek in Lephalale gebeur en volgens Louwrens kry hulle die heel minste finansiële ondersteuning vanuit die Lephalale-gemeenskap. Ek wil so graag vandag ʼn beroep op almal doen wat die vermoë het om hulle finansieel te ondersteun om dit te doen. Hulle stel hulle en hulle families se lewens in gevaar om misdadigers te vang en toe te sluit.
Lees ook gerus die berig op bladsy 4 oor die moontlike samewerkingsooreenkoms tussen die onderskeie veiligheidstrukture in Lephalale. Dit is algemeen bekend dat daar individue is wat téén mekaar werk omdat hulle persoonlike kwessies het. Die fokus moet in alle gevalle op veiligheid en paraatheid wees. Hou asseblief by die wettige skrukture en fokus op die einddoel – om wet en orde te handhaaf in ons dorp en om veiligheid te bevorder.
Groetnis tot volgende week
— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.