Redakteursbrief — 4 Mei 2018

ʼn Man wat van ʼn krans af val, die bestuurder van ʼn splinternuwe Range Rover wat waarskynlik beheer oor sy voertuig verloor het en op slag dood is, ʼn nutsman wat soos mis voor die son verdwyn, Flora se naasbestaandes wat steeds wag om finaal afskeid te neem en haar liggaam te begrawe, paaie wat opgegrawe word en inwoners wat nie kan gaan werk nie. En dan goeie nuus dat Exxaro en RAL ʼn ooreenkoms geteken het om paaie te herstel. Dít is hierdie week se koerant in ʼn neutedop.

Dit was nogal ʼn uitdaging om dié koerant bymekaar te sit met al die vakansiedae.

Ek wonder baie oor vakansiedae. Dit is nou lekker om in die middel van die week ʼn dag af of ʼn langnaweek salig deur te bring, maar as jy terug is by die werk is dit dubbel insette om alles gedoen te kry. Dan praat ek nie eers van die skole nie – hoe kry onderwysers dit reg om al die werk ingepas te kry as die skooldae al hoe minder word?

En ja, dis Meimaand. Die winter is op pad en die jagseisoen in volle swang.

Geniet die koeler dae en mag dit reën waar julle bokke wei.

— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.