Redakteursbrief — 6 April 2018

Paasnaweek 2018 en die week daarna sal voortaan gekenmerk word as die week waarin twee Suid-Afrikaanse vroue gesterf het. Twee vroue wat elkeen op hulle eie manier ʼn reuse impak in Suid-Afrika gehad het.

Winnie Madikizela-Mandela en Pam Golding. Die een was ’n Suid-Afrikaanse aktivis en politikus wat verskeie regeringsposisies beklee het en hoof van die ANC se Vroueliga en Uitvoerende Komitee was. Sy was vir 38 jaar getroud met wyle Nelson Mandela, ook die 27 jaar wat hy in die tronk was. Hulle is op 19 Maart 1996 amptelik geskei. Haar lewe was deur sommiges vereer, ander veroordeel haar.

Pam Golding was die stigter en voorsitter van die Pam Golding Eiendomsgroep en sy sterf op 3 April op 90-jarige ouderdom. Sy het die voortou geneem in die wêreld van eiendomme wat vroeër jare ʼn manswêreld was. Sy begin Pam Golding Eiendomme in Suid-Afrika in 1976 en die maatskappy het tans meer as 300 kantore in Afrika en ook in die VSA, Duitsland, Frankryk en Mauritius.
Suid-Afrikaanse ikone.

Paasnaweek sal altyd sinioniem gesien word met padsterftes en botsings. Teen druktyd was die amptelike Paasnaweek padsterftestatistieke vir Limpopo nog nie beskikbaar nie, maar te oordeel na nasionale media, lyk dit nie goed nie. Die fiasko by die Mooirivier-tolplaza het die chaos nuwe hoogtes laat bereik.

Die jaarlikse optog na Moria anderkant Polokwane was vanjaar geen uitsondering nie. Duisende voertuie, onklaar voertuie, oorlaaide voertuie en botsings het veroorsaak dat die pad ʼn nagmerrie was. ʼn Kollega van my het meer as agt ure op die pad spandeer van Moria na Lephalale.

En so het onse eie danser, Frank Opperman so stil-stil in Lephalale kom kuier. Lees meer waarom hy hier was op bladsy 3 in hierdie uitgawe.

Ben Nortjie se storie op die agterblad is ʼn lekker goedvoelstorie, geniet dit.

Tot volgende week,

— Leoni

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.