Brief – 13 Julie 2018

Die Redakteur

Baie dankie dat die geraasbesoedeling so prominent aangespreek word.

Verbeel ek my, of was dit verlede week stiller en rustiger?

Net nog ʼn paar dingetjies wat ek dink aandag behoort te kry:

Die bron en tye van lawaai is nou vasgestel – hoekom word daar nie ʼn gesamentlike optrede deur verskillende staatsdepartemente en entiteite geloods om Plastic View ʼn bietjie op te ruim nie?
Daar word reeds gemeld dat buiten vir die lawaai, is daar ook onwettige drankhandel.

Wat sekerlik daarmee saamgaan is ander dwelmverwante misdade, prostitusie, besit van gesteelde eiendom, verbode immigrante, verkeersoortredings, ens?

Die owerhede hoef nie te wag dat lede van die publiek kla oor lawaai, ens nie. Die wet maak voorsiening dat enige misdaad wat in die teenwoordigheid van ʼn polisiebeampte plaasvind, so ʼn amptenaar dadelik kan optree. Dus, as die polisie patrolleer om 23:30 en daar is ʼn lawaai in Onverwacht, mag daardie beampte na die toneel gaan en die mense versoek om minder te raas, omdat dit teen die dorpsregulasies is. Indien die mense om 24:00 steeds raas, mag die beampte optree volgens die regulasies van die betrokke munisipaliteit. Dis ʼn mite dat daar eers ʼn klagte moet wees.

Die nare waarheid is, die Polisie patrolleer nie meer nie en wil nie optree teen oortreders nie (miskien omdat dit hulle gewildheid kan beïnvloed?), vandaar die mite dat die bure eers moet kla.

Feit is, hoe gouer daar teen probleemareas opgetree word, hoe gouer gaan die misdaadsyfers daal en hoe gouer gaan mense in vrede saamleef.

— A Malan

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.