Brief — 29 Junie 2018

Die redakteur
Buurtvrede? Ek stem 100% saam met Elsa van Rooyen. Dit bestaan nie in Lephalale nie. Miskien buite op ʼn plaas, ver van die dorp af. Veral nie in Onverwacht nie.

Daar gaan nie ʼn nag verby dat daar nie onvrede is nie. Iemand in ons buurt raas baie met ʼn motorfiets en dan natuurlik die doef-doef musiek – veral van die 25ste van elke maand af. Dis seker wanneer mense geld kry.

Die oplossing is:
Wanneer die Polisie/GPF geskakel word moet die toneel besoek word. Elke dorp het munisipale regulasies teen rusverstoring – voer dit net uit.

Die probleem is:
Die Polisie antwoord nie hul telefone nie.
Die Polisie gee nie aandag aan die klagte nie.
Die GPF antwoord hulle telefoon flink, maar noem dat hul hande afgekap is, want hulle moet ook eers die Polisie in kennis stel.

Miskien moet ons almal ʼn elektroniese griefskrif teken en aan Bheki Cele stuur en aandring daarop dat die Polisie hulle werk doen.

As die klein misdryfies aandag kry, word die groter misdrywe ook aangespreek.

Dis immers die klein jakkalsies wat die wingerd verniel.

Hopelik reageer nog mense op dié berig en kan ons almal koppe bymekaar sit.

— Antionette Malan

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.