1 000 km vir downsindroom Jayden

Ben wil 1 000 km op sy fiets aflê om die 7-jarige Jayden, wat downsindroom het, te help met mediese uitgawes

LEPHALALE — Die 38-jarige Ben Nortjé, ʼn werknemer van Exxaro wat sedert 2000 in Lephalale woon, is gek daaroor om met sy fiets deur die lieflike Suid-Afrika te ry en terselfdertyd ook fondse in te samel vir families met spesiale behoeftes.

Ben se vorige fietsrit was vanaf Port Elizabeth tot in Kaapstad, maar dié keer spring hy Saterdag 12 Oktober in Lephalale weg na Upington, ʼn volle 1 000 km op sy fiets.

Hy beplan om tussen 120 km en 150 km per dag op sy bergfiets te ry – sonder enige ondersteuning of bystand en so naby as moontlik aan die grens van Suid-Afrika, wat meesal grondpad is.

Maar waarom doen hy dit?
Hy doen dit vir die sewejarige Jayden en sy ma, Valencia Viviers.

Jayden is op sewe maande gediagnoseer met perimembraneuse ventrikulêre septale defek en op die ouderdom van twee jaar is hy gediagnoseer met trisomie 21 (downsindroom).

Vandag woon Jayden en sy enkelma by sy ouma vir noodsaaklike ondersteuning.

Jayden se broodnodige arbeidsterapie, spraakterapie en fisioterapie kos baie geld en Valencia kan nie bybly met die mediese uitgawes nie.

Ben wil graag fondse insamel vir dié verdienstelike saak. Alle fondse wat inbetaal word, word bestuur deur die nie-winsgewende organisasie Backabuddy en deur Brainchild Fund versprei.

Jy kan ook help deur ʼn blokkie op Ben se fietsryhemp te borg. Jou embleem sal dan op sy hemp aangebring word.

“Omdat die doel van my tog is om geld in te samel vir ʼn ongelooflike saak, sal ek my epiese avontuur afrond met ʼn ekstreme driekamp in Upington,” sê hy.

Skakel Ben by 082 557 5406 vir meer inligting oor hoe om by te dra of ʼn blokkie op sy hemp te borg. Hy mik daarna om sowat R30 000 in te samel.

Ondersteun asseblief hierdie verdienstelike saak.

Brainchild Fund is ʼn niewinsgewende organisasie wat ouers help om ʼn volhoubare ondersteuning-struktuur te bou rondom elke kind met spesiale behoeftes om die kind sterker te maak.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.