14 wapens weg

Die kluis is duidelik nie oopforseer nie

OVERYSSEL — Drie verdagtes word deur die polisie gesoek nadat veertien vuurwapens en ʼn onbekende hoeveelheid ammunisie in die vroeë oggendure van Maandag 20 November uit ʼn instapkluis by Bateleur Safari Lodge buite Lephalale gesteel is.

Lede van die Heritage Protection Group (HPG) was Dinsdag 21 November op die toneel en hulle sê sover hulle kon vasstel is daar altesaam 14 vuurwapens gesteel, waaronder ʼn handwapen. Die res is blykbaar almal jaggewere. Volgens Sakkie Louwrens van HPG wat Woensdag 22 November op die toneel was, is die kluis nie oopforseer nie en het dit óf oopgestaan óf iemand het dit vir hulle oopgesluit.

Volgens adjudant-offisier Frans Mokoena van Lephalale SAPS het die verdagtes Sondagnag/Maandagoggend by ʼn half-oop venster toegang tot die kantoorgebou verkry waar die kluis is.

Phillip Bronkhorst, eienaar van Bateleur Safaris, het Maandagoggend aan Mogol Pos gesê hy is self nie seker wat gebeur het nie en alles is nog deurmekaar. Hy en sy vrou, Jo-anne, was ten tyde van die voorval by PHASA se 40ste Konvensie in die Drakensberge.

Volgens ao Mokoena is die moontlikheid groot dat daar aanklagte teen Bronkhorst sal wees vir die beweerde oortreding van die Vuurwapenbeheerwet.

Brigadier Motlafela Mojapelo, Provinsiale Polisiewoordvoerder, het in ʼn mediaverklaring gesê dat menige geweldsmisdade gepleeg word met gesteelde vuurwapens. “Ons kan nie toelaat dat vuurwapens in kriminele se hande beland as gevolg van die agterlosigheid van die vuurwapeneienaar nie,” sê hy.

Enigiemand met inligting wat kan lei tot die arrestasie van die verdagtes word versoek om die naaste polisiestasie te skakel of die Stop Misdaad-nommmer – 086 001 001.

Die ondersoek duur voort.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.