2 dae sonder hulp

LEPHALALE — Die 25-jarige Paul Scheepers, ʼn Exxaro-werknemer is Maandagaand 12 Maart omstreeks 18:00 deur ʼn werker van ʼn nabygeleë lodge langs die Steenbokpanpad gevind. Die werkers het blykbaar in die omgewing draad gespan en hom om hulp hoor roep.

Paul, ook bekend as Pollie, het sedert Saterdagaand 10 Maart in die lang gras langs die pad gelê. Hy kon nie beweeg nie en daarom nie hulp soek nie.

Volgens CJ Viljoen, ʼn werknemer by die nabygeleë lodge, het daar rondom 18:00 ʼn radioroep deurgekom dat iemand langs die pad gevind is en dat hy baie ernstig beseer is. CJ sê Paul kon net sy arm en mond beweeg. Hy het dadelik met lede van Lephalale GPF geskakel en ʼn ambulans is ontbied. Hy is na Mediclinic Lephalale vervoer waarna hy na Pretoria oorgeplaas is.

Volgens Ina Visser, ʼn vriendin van die familie, is hy na Mediclinic Muelmed in Pretoria oorgeplaas en teen Woensdagoggend 14 Maart was die dokters steeds in proses om bloed uit albei longe te dreineer. Hy sou Woensdag teater toe gaan sodat die skade aan sy rug bepaal kon word, maar volgens Ina sou daar eers ná die operasie ʼn aanduiding gegee kon word of hy weer sal kan loop.

Teen Woensdagoggend het sy pa, ook Paul, op ʼn familie-WhatsApp-groep laat weet dat hy darem kan praat en baie water drink.

Volgens Ina het hy aan ʼn vriendin gesê dat ʼn voertuig ʼn ander voertuig verbygegaan het Saterdagaand en dat hy van die pad af moes ry om plek te maak vir die voertuie. Hy het van die pad af gery, beheer verloor oor sy motorfiets en geval. Ander gerugte is dat sy motorfiets ‘n slaggat in die pad getref en hy beheer verloor het. Hy het probeer om van die gras rondom hom aan die brand te steek om aandag te trek, maar die groen gras wou nie vlamvat nie.

Teen druktyd was daar nog nie bevestiging van die uitslag van die operasie nie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.